Tuesday 17 January 2012

Tyd loop uit vir inspraak in kommunikasiewet



6.07.2007

Tyd loop uit vir inspraak in kommunikasiewet

ROLSPELERS in die telekommunikasiebedryf en ander belangstellendes het nog net tot Dinsdag om insette te lewer oor voorgestelde wysigings aan die land se langverwagte nuwe kommunikasiewet.
Die Namibiese Kommunikasiekommissie (NCC) sal slegs tot 10 Julie bykomende kommentaar ontvang oor 'n konsepwet wat die grondslag vir die volledige liberalisering van die telkommark sal lê.
'n Nasionale slypskool sal vanaf 25 tot 27 Julie plaasvind om finaal vorm aan 'n wet te gee wat deur 'n ewekansige geleentheid vir vrye en gesonde mededinging uiteindelik vir Jan Alleman onder meer die beste moontlike diens en pryse moet verseker.
Die wet sal die NCC ook vervang met 'n veel gevaarliker waghond, die Namibiese Kommunikasieowerheid (NCA).
Die Kabinet het in Maart vanjaar midde 'n hete geveg tussen Telecom, MTC en Cell One oor of die staatsvoorsiener die mobiele foonmark met sy nuwe produk Switch kon betree, hierdie wetgewing wat al agt jaar in aantog is, op die sneltrajek geskuif. Behalwe dat Telecom opdrag gegee is om Switch-kliënte se opvangs intussen tot die dorp waar hulle woon te beperk, is bevel gegee dat die nuwe kommunikasiewet reeds vandeesmaand in die Nasionale Vergadering moet dien.
Hierdie tydvenster is reeds gemis. Ná finalisering sal die wet ook eers weer voor die Kabinet moet dien.
Die Inligtings- en Kommunikasietegnologie-alliansie (ICTA) is 'n forum wie se lede by laat vandeesmaand se finale indaba oor die kommunikasiewet hul stemme na verwagting baie dik kan maak. Volgens mnr. Milton Louw wat die Alliansie bestuur, is daar die volgende twee maande nog twee baie belangrike byeenkomste.
Op 2 en 3 Augustus sal IKT-beleid in die visier inskuif, terwyl 'n konferensie op 13 September halsstarrige probleme met die administrasie van Namibië se domeinnaam op die internet (.na) gaan takel. As deel van die nasionale besit is dit volgens mnr. Louw noodsaaklik dat die land se internetkode in nasionale belang bestuur moet word.
Die ICTA wie se nuusbrief 'n omsendsyfer van byna 1 400 het, het volgens mnr. Louw nuwe lewe gekry ná 'n lang sluimerperiode en verwag om hul individue ledetal, wat verlede jaar op 10 gestaan het, tot in die omgewing van 80 te vermeerder. 'n Totaal van 54 sakeondernemings was verlede jaar deel van hierdie belange- en drukgroep. 
Enigiemand met navrae oor die werk van dié Alliansie is welkom om mnr. Louw by 081 304 3282 te skakel, of hom by milton@iit.com.na te vonkpos. Hul webwerf is www. ictalliance.org.na.
Voorleggings oor die huidige konsepkommunikasiewet, beskikbaar by die NCC (061 222 666), moet in elektroniese en gedrukte formaat wees (vyf afskrifte van elke voorstel is nodig) en dit moet die Kommissie op die laatste teen 10 Julie bereik. Hul kantore is by Robert Mugaberylaan 56.
Die NCC sal na verwagting eersdaags die konsultante aanwys wat aan die spits van die finalisering van die wet sal staan.