Tuesday 17 January 2012

Nuwe bedeling vir 'dot com dot na'


DEELNEMERS aan 'n onlangse beraad oor die administrasie van Namibië se domeinnaam op die web, "dot na", het hulself bankvas geskaar agter die noodsaak vir 'n stelsel wat hierdie nasionale bate op 'n veel doeltreffender wyse sal bestuur.
Klagtes oor 'n "diktatoriale, diskriminerende en disfunksionele" status quo - waaroor koppe al vir jare baie hard stamp - het die Alliansie vir Inligtings- en Kommunikasietegnologie (ICTA) genoop om rolspelers bymekaar te roep om 'n padkaart vir ingrypende verandering op te stel.
Volgens mnr. Milton Louw van ICTA sal die eenparige steun wat by hierdie slypskool vir vernuwing gemonster is, die weg baan vir 'n formele aansoek van regeringskant aan die internasionale Internetkorporasie vir Toegedeelde Name en Nommers (ICANN) dat die registrateurskap vir ".na" uit die hande van dr. Eberhard Lisse geneem word. Lede van die alliansie dink dit is hoog tyd om die sterk persoonlike angel uit 'n rompslompstryd te trek wat volgens mnr. Louw veroorsaak dat meer as 70 persent van nuwe webwerwe wat vandag in Namibië geregistreer word, net die "dot com"-naam eerder as Namibië se eie, unieke webkode dra.
Hy het dr. Lisse se bewering dat hy nie genooi is om sy saak te stel nie verwerp.
Volgens mnr. Louw het mnr. Sackey Shanghala, die persoonlike raadgewer van die Minister van Justisie en Prokureur-generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, wat aan die stuur van die finalisering van die land se lank verwagte nuwe wet oor inligting en kommunikasie staan, verseker dat die administrasie van Namibië se domeinnaam vervat sal word in hierdie konsepwet, wat volgens plan nog in die huidige sitting van die parlement ter tafel gelê sal word.
Die voorstel is dat die nuwe kommunikasie-owerheid (NCA), wat deur hierdie wet in die lewe geroep sal word, 'n onafhanklike liggaam sal stig wat die administrasie, registrasie en regulering van "dot na" sal hanteer tot 'n wet op elektroniese transaksies ingestel is. Die plan is dat die publiek lede uit die IKT-bedryf, regslui, akademici en burgerlikes sal nomineer om op hierdie raad te dien.
Die beter diens waarop almal in die proses aandring, kan egter nog jare neem om 'n werklikheid te word.
Terwyl 'n mens volgens mnr. Louw met 'n kredietkaart op die internet binne vyf minute vir sowat N$90 'n nuwe webwerf kan registreer as die kliënt tevrede is met net 'n "dot com", wag aansoekers weke om 'n "dot na"-naam te kry. Dít kos N$565.
Volgens ICANN se reëls word die eerste persoon wat 'n werf met 'n land se toegedeelde kode registreer, outomaties die registrateur. Dr. Lisse het in 1990 op hierdie manier beheer oor die bestuur van "dot na" gekry, wat tans deur die onderneming Ondis en die Namibian Network Information Centre (NA-NiC) op Swakopmund behartig word.
So 'n registrateur kan die prosedure vir die registrasie van nuwe werwe vasstel en aansoeke goed- of afkeur.
Ontevredenes meen heeltemal te veel mag het in die proses in 'n enkele internetman se hande beland.