Tuesday 17 January 2012

Namibië moet digitaal verspring

http://www.republikein.com.na/die-mark/namibi-moet-digitaal-verspring.94007.php



25.09.2009

Namibië moet digitaal verspring

NAMIBIË kort blykbaar ’n dringende ingryping in die inligting- en kommunikasietegnologie (IKT) sektor om die steeds groeiende gaping tussen globale tegnologiese vordering en nasionale ontwikkeling te oorbrug. 

Volgens mnr. Milton Louw, skrywer van Smile my Beloved Land, sal sy IKT-aksiegroep bewusmaking in Namibië hoog op die nasionale agenda plaas. Mnr. Louw het onlangs die IKT aksiegroep gestig om Namibiërs aan te spoor om so gou moontlik deel van die digitale rewolusie te word. 

Die aksiegroep wil die Regering as vennoot betrek om op elke vlak bewusmaking te beklemtoon en om die regeringsmandaat te verkry om die publiek oor IKT in te lig. 

Die IKT-aksiegroep wil graag ’n sentrale register in Namibië begin, plaaslike webtuistes help skep en onderhou en mense aanmoedig om by webtuistes sooswww.namlish.com, wat ’n digitale gemeenskap Namibiërs bymekaarbring, aan te sluit en landgenote aan te spoor om ’n digitale nasionale identiteit te skep. 

Mnr. Louw noem dat volslae IKT-infrastruktuur dit moontlik maak om ’n moderne inligtingsamelewing en kennisekonomie te kan aandryf, wat blyk die tendens is wat presterende lande volg. 

Hy noem dat Facebook, in terme van lede, reeds die wêreld se vyfde grootste “land” sou wees. Hy vermeld ook hoe die akteur Ashton Kutcher vir CNN in ’n weddenskap geklop het dat hy ’n miljoen kontakte op Twitter kon kry. 

Hy noem dat veral in lande soos Namibië, Nigerië en Suid-Afrika ’n reusesprong in selfoon-tegnologie plaasgevind het, wat ’n hele ander mark vir IKT-bewusmaking open. ’n Onlangse studie toon dat 80% van die Namibiese bevolking ’n selfoon het, maar net 3.7% gebruik ’n rekenaar met internettoegang. 

“Armoede is dus nie net ’n konsep wat met geld en basiese infrastruktuur verduidelik kan word nie, maar ook deur ’n gebrek aan kennis oor en toegang tot relevante inligtingen kommunikasietegnologie,” sê mnr. Louw.

Hein Scholtz